Tammy van Aswegen se boodskap van Hoop.

Tammy van Aswegen is ‘n borskankervegter met die wil om ‘n oorwinnaar te word.Tammy se kanker reis het op 34 jarige ouderdom in Julie 2017 begin toe ‘n knop onder haar arm haar aandag getrek het .Sy het besef dat dit ‘n moontlike gevaarteken is en alhoewel sy nie ‘n persoon is wat vinnig dokter toe hardloop nie, het sy ‘n baie sterk gevoel gehad dat sy die dokter in die geval moes raadpleeg. Dit was asof ‘n stem duidelik vir haar gesê het dat daar na die knop gekyk moes word.

Tammy is dadelik gestuur vir ‘n skandering wat ‘n abnormaliteit opgespoor het. Dit was ‘n wonderwerk dat sy die volgende dag die enigste beskikbare afspraak kon kry om die chirurg wat die biopsie sou uitvoer, te sien. Binne ‘n week van die vind van die knop, is Tammy geskeduleer vir ‘n operasie. 

18 Julie 2017 was die dag toe Tammy die nuus gekry het wat niemand graag sal wil hoor nie – “Ek is jammer, maar dit is kanker.” Vyf jaar gelede is haar pa na sy reis met kanker oorlede.  As ‘n ma van twee kinders, Riley (7) en Addisyn (2) jaar oud, het Tammy skok ervaar as gevolg van die diagnose. Sy sê “My eerste gedagte was dat dit my doodsvonnis was, dat ek gaan sterf.”

Die volgende dag het haar onkoloog Dr. Muller haar tot bedaring gebring en die pad vorentoe verduidelik. Verdere toetse het bevestig dat dit ‘n stadium 2-borskanker was en dit was blykbaar goeie nuus. Hulle het ook uitgevind dat dit ‘n graad 3 kanker was, wat beteken dat dit ‘n baie aggressiewe vorm van kanker is. As Tammy die knop geïgnoreer het, sou die kanker geleidelik versprei het en haar prognose sou nie so goed gewees het nie.

Chemoterapie het gedurende Augustus 2017 begin en dit was ‘n paar maande van uitmergelende behandeling. Depressie en angs het ‘n deel van haar lewe geword. Dit was in hierdie tye van vrees en wanhoop dat Tammy begin bid het. Sy sê” Ek dank die Here vir Sy engel wat in my oor gefluister het om daardie dag ‘n dokter te gaan sien. Ek dank die Here dat ek hierdie stryd moet stry en nie my kinders of familie nie. Ek het gebid vir krag en moed in tye wanneer ek so swak en onbekwaam gevoel het om ‘n ma te wees. Ek het die Here gevra om die woede wat ek gevoel het weg te neem en om dit te vervang met vrede. Die mees ongelooflike ding het gebeur en my behandelings het draagliker begin word. Ek kon selfs op goeie dae gaan oefen.”

In Januarie hierdie jaar het die chemoterapie tot ‘n einde gekom en die CT-skandering het getoon dat die chemo sy werk gedoen het. Daar was ‘n groot verbetering. Saam met haar mediese span het hulle toe besluit om voort te gaan met die mastektomie en op 14 Februarie 2018, die dag van liefde, het sy ‘n regterbors mastektomie met limfknopdisseksie gehad. Resultate van hierdie het hulle verstom, aangesien die kanker nie meer teenwoordig was in die borsweefsel nie en dat slegs een limfknop daardeur geraak was.

Dit was uiters goeie nuus met inagneming die graad van kanker. Teen April 2018 het Tammy die finale struikelblok begin aanpak. Tammy moes 25 sessies van bestraling kry – vyf dae per week vir 5 weke. Dit was geweldig uitputtend en sy het voltyds gewerk en moes elke aand hospitaal toe gaan vir behandeling. Gedurende hierdie tydperk was haar kinders as fokuspunt gebruik om deur te druk. Tammy moes haarself indink dat sy in 20 jaar nog hier moet wees en dit het haar gemotiveer om met die behandeling deur te druk, al was dit baie uitgeputtend. 

Tammy wou nie toelaat dat kanker haar toekoms saam met haar kinders steel nie. Sy het altyd vertroosting gevind wanneer sy gebid het. Tammy sê”Die woorde en beloftes dat die Here my nooit sal begewe of verlaat nie het duidelik weerklink en daarom het ek besluit om op die Here te vertrou vir my genesing. Ek glo medisyne is ‘n genesingsmiddel maar die Here is die Geneesheer. Hy het my in oorvloed geseën met ‘n sterk ondersteuningstelsel. My ma was daar om te help met die huiswerk en kinders, my man staan by my deur al my verskillende buie en vermaak en hou die kinders besig op my slegte dae. Hy kla nooit, al het hy self suikersiekte en sy eie gesondheidsuitdagings. Die kinders het ongelooflik ondersteun vir iets wat hulle nie heeltemal verstaan ​​nie. Van help om die wonde skoon te maak, om vir my ‘n bad te tap of net ‘n soen op my voorkop te gee en te sê “Mamma, ek is lief vir jou.” 

My dogter wat sou hardloop om my hare te gaan kry -‘n pruik wat vertoon was in die slaapkamer, want mamma se ander hare het weggewaai, is van die beter herinneringe wat my laat lag. Kanker het my fisies en psigies gebreek vir ‘n rukkie, maar nooit geestelik nie. Die Here was elke dag saam met my deur hierdie reis en tans is daar geen kanker waarneembaaar op enige skanderings nie. Ek sal egter voortgaan om te veg vir oorwinning en verseker ek word ‘n oorwinnaar.Ek het my geloof in die Here geplaas en Hom gevra om beheer oor te neem. Kanker beheer my nie, ek beheer kanker want die Here is aan my sy.

Ek het beheer teruggeneem en net ‘n maand nadat ek my finale behandeling gekry het, my eerste 10km wedloop gehardloop. “Tammy wil graag die boodskap dat niks onmoontlik is nie versprei. Dat daar altyd hoop is vir ‘n beter toekoms. Sy glo dat mens niks het om voor te veg as mens hoop verloor het nie. In Tammy se eie woorde – “Wanneer jy twyfel, moet jy bid, luister en op God vertrou om jou te help. Julle moet geloof hê dat hierdie nie straf is nie, maar dat daar ‘n rede daarvoor is. Ek het die voorreg gehad om deur middel van hierdie reis, n paar van die mees ongelooflike vroue te ontmoet wat my lewe ten goede verander het. Ek het verander in ‘n vreeslose vegter -en ek sal oorwin, want ek het die stuurwiel van my lewe vir die Here gegee.”

Aan al die dames daar buite -moet nooit HOOP verloor nie. Onthou hierdie – wanneer die duiwel in jou oor fluister om gereed te maak vir ‘n storm, fluister terug “Ek is die storm”. God is in die middel van die storm in my lewe en kanker is die duiwel. Wanneer ek bang voel, sê ek vir myself dat God groter is as enige iets anders. 

Bly sterk mooi krygers. 

Kanker is nie die hele storie nie, dis maar net ‘n hoofstuk. “

Deur: Elizabeth (Lizzy) Welch

  •  

Leave a Reply

Translate »