Debbie Reinecke se kankerreis storie

Debbie vertel…”Ek het geen knoppe in my borste gevoel of pyn ervaar nie. Ek het agtergekom dat my linker bors n bietjie uitgebult het by my buustelyfie, maar het aangeneem dat dit as gevolg van ouderdom was en die feit dat mens op ons ouderdom nie meer die ferm borste van ‘n twintig jarige het nie. Dat die swaartekrag sy eis geneem het en dat ons hoofligte nou ook nie meer reguit vorentoe skyn nie.  

Ek het dikwels sleg gevoel en erge moegheid ervaar. Het ongelukkig nie na my eie belange omgesien nie en was meeste van die tyd baie onder druk wat tot stres gelei het. 

Ek was een oggend so gejaag dat ek met my bril en al in die stort geklim het. Dit was in die laaste week van my herstel van ‘n histerektomie en die verwydering van ‘n sistiese massa in my maag. Toe ek in die spieël gekyk het, het ek ‘n groot verskil tussen my twee borste opgemerk.Ek is nie een wat gereeld in die spieël kyk nie en my man sou ook nie agtergekom het nie,omdat ek min naak bolyf voor hom was. My linkerbors en tepel was baie groter as my regter bors en die tepel ingeduik. Ek het maar altyd ingedykte tepels gehad en het juis hieroor gesukkel om my babas te borsvoed, so dit het my nie bekommer nie.

Ek het bors selfondersoek gedoen en nie enige knoppe of bulte gevoel nie. Die linkerbors het egter anders en swaarder gevoel maar ek het geen pyn ervaar of knoppe gevoel nie. 

Ek het elke twee maande selfondersoek gedoen, maar nie op dieselfde tyd elke maand soos dit hoort nie.

Ek was ook nie onverantwoordelik met die mammogramme nie, my laaste een was agtien maande voor hierdie veranderinge opgemerk was, gedoen. Die rede was dat ek vir sewe jaar gesukkel het met ‘n groen afskeiding uit my tepels. Die spesialis het die groen afskeiding toegeskryf aan hormone en gesê daar is niks ernstigs om oor bekommerd te wees nie.

Die laaste mammogram het baie cists in albei my borste opgetel, maar geen ander vreemde bevindings nie en ek is aangesê om in twee jaar die mammogram te herhaal.

Daardie naweek het ek my borste vir my ma wat ook my beste vriendin is, gewys. Sy het ook nie enige knoppe gevoel nie, maar wel n verskil agtergekom en my gemaak om die week daarop dokter toe te gaan. Ek weet dat as dit van my afgehang het sou ek die doktersbesoek uitgestel het, omdat ek so besig was. Die dokter het onmiddelik gesê ek moet my voorberei vir ‘n operasie en aangedring dat ek nog dieselfde dag vir ‘n mammogram moet gaan. Van toe af het dinge vinnig gebeur. Ek was na die chirurg en plastiese chirurg gestuur vir rekonstruksie konsultasies.

Ek is toe in April 2017 gediagnoseer met fase 3b borskanker. Ek het ‘n linker bors mastektomie en rekonstruksie gehad op 30 Mei 2017. Al my limfkliere is positief getoets vir kanker en almal, behalwe twee, is verwyder. Ek het versoek om ‘n dubbel mastektomie te hê, aangesien ek die risiko dat die kanker sou terugkeer wou uitskakel. Maar albei die onkoloog en chirurg was daarteen gekant.

In Augustus 2017 het ek met chemoterapie begin, tot en met die 14de Februarie hierdie jaar.Ek was voorbereid om my hare te verloor, maar was ontsteld toe dit wel gebeur het. Ek het groot klompe hare drie dae voor my dogter se matriekafskeid verloor. Ek en my ma het toe pruike gaan soek om aan te pas, maar ek was nie daarvoor te vinde nie. Ek het maar verkies om met tye ‘n bandanna te dra, maar meeste van die tyd maar ‘n dapper bleskop te wees.

Die feit dat ek kanker het, het my eers regtig getref toe ek die eerste maal by die chemoterapie afdeling ingestap het. Tot op daardie stadium het dit vir my gevoel asof ek na iemand anders se lewe kyk wat deur hierdie moeilike ervaring gaan. Ek het toe besef dat dit regtig met my gebeur en dat ek die kanker moes wys wie baas is, aangesien ek nie wou toelaat dat iets my van my gesin verwyder nie.

Ek moes toe ‘n chemoterapie siklus elke 21 dae doen en daarna ‘n tweede siklus op ‘n weeklikse basis. Ek was gesëend dat my liggaam die chemoterapie goed kon verdra, ten spyte van moegheid, swakheid en naarheid. Ek was gedurende my kanker reis vier keer gehospitaliseer weens lae bloede en die een keer ook in isolasie geplaas. Na ‘n breek van twee weke het ek begin met ‘n ses weke lange radioterapie kursus.

Aan die einde van September het ek ‘n tweede en derde fase rekonstruksie operasie gehad. Ek was van Junie 2017 vir nege maande op onbetaalde siekverlof aangesien al my siekverlof opgebruik was na my histerektomie.Dit was die Here se manier om my te dwing om te rus. Die susters in die chemo kamer, die ontvangs en rekeninge personeel, my onkoloog so wel as die radioterapeute was ‘n wonderlike ondersteuning vir my en het vir my soos familie gevoel. Ek het so veel wonderlike mense ontmoet op dieselfde reis as ek en het spesiale lewenslange vriendskappe gevorm.

Ongelukkig het ek van hierdie vriende aan die dood afgestaan. My ouers, familie, kerksmense en naby vriende is almal ‘n ongelooflike ondersteunings-stelsel vir my. Dit is baie belangrik om te besef dat elkeen op sy eie manier die kanker hanteer en dat jy nie seergemaak moet voel as die mense wat jy dink jou sou ondersteun nie daar is vir jou nie, maar dat ander jou weer sal verras. Ek sou aanbeveel dat jy jou hare afskeer aangesien dit ontstellend kan wees om elke oggend jou uitgevalde hare op jou kussing te sien lê of handevol hare in die stort te sien lê.

Mens moet ook gesond probeer eet en die kos inhou. Mens se liggaam kan nie die gif van die chemo so wel as gewigsverlies hanteer nie. Mens moet partykeer selfsugtig wees en rus. As jy kleinkindertjies het moet jy ‘n goeie ondersteuningsnetwerk hê wat kan help met die vervoer, haal van kinders en maaltye. My dogter was sewentien en in matriek toe ek gediagnoseer is, ek bly trots op haar goeie uitslae. My seun was ‘n vierde jaar student by NMU. Hulle ondersteuning was fenomenaal. Ek weet regtig nie hoe mense met klein kindertjies op hierdie reis uithou nie. Dit is ‘n moeilike reis.

My raad vir ander is om naby Die Here te bly op hierdie reis, omdat Hy mens onderhou en krag gee. Ek voel dat ek as mens so wel as geestelik op hierdie reis gegroei het. Ek glo ook dat ek kanker vir ‘n rede gekry het. Dit was ‘n wekroep. My lewe was gejaagd, met stres gelaai en op ‘n afwaartse wentelbaan van depressie en angs. Ek is sedert April in ‘n nuwe werkspos wat ek terdeë geniet en maak nou tyd vir kuns, mosaïek en liefdadigheid, soos ek altyd wou doen.

Deur Elizabeth Welch (Lizzy)

Leave a Reply

Translate »